Taboek
Die filosofie van Riku Lätti word in 2024 deur Naledi uitgegee as 'n bundel getiteld Taboek
bestel taboek by: naledi.co.za - Taboek deur Riku Lätti (tuis aflewering binne 5 dae)
Riku Lätti se poësie-debuut is meer as net nog ’n oulike digbundeltjie in Afrikaans; ek sien dit as ’n monumentale en omvattende deurgronding van alle fasette van die moderne mens se soeke na betekenis en — hier kom die grootste verrassing — selfs ons opvattings oor die teologie. – Koos Kombuis
Aangrypende meditasies oor die heiligheid van onsekerheid. ’n Boek waarna ek telkens sal terugkeer om naby die aarde en werklikheid te bly om nie te gryp na die warm lug van dogma en onwetenskaplike verduidelikings van bestaan nie. – Dana Snyman
Met ’n Taboek oor god lewer Riku Lätti ’n speelse pleidooi vir die aanvaarding van alles wat is omdat dit is. – Danie Marais
Jonathan Amid het op 24 Julie 2024 in gesprek getree met Riku Lätti oor Taboek by Die Oude Leeskamer in Stellenbosch. Hierdie gesprek is lewendig op die internet gestroom en die video van daardie gesprek is hier beskikbaar:
Daar is al heelwat oor Taboek gegons:
Begin Julie 2024 verskyn daar 'n lesersindruk deur Aschen Conradie op haar literêre blad op Facebook en Taboek kry 5 sterre. 'n Dag of twee later is lesersindruk deur Facebook verwyder met 'n boodskap wat min sê maar verduidelik dit inhoud daarvan is onvanpas vir Facebook se hoë standaarde en moes verwyder word. Anschen Conradie het wel die lesersindruk aangestuur en dit word hier in totaliteit gepubliseer met haar permissie:
“Taboek”, sy poësiedebuut, word deur Dana Snyman beskryf as “Aangrypende meditasies oor die heiligheid van onsekerheid.” Terwyl die leser nog hieraan prosesseer, tref die uitdaging van die eerste gedig reeds: “...die mense wat hierdie boek nodig het / gaan dit nie lees nie / die mense wat hierdie boek gaan lees / het dit nie nodig nie...” (7), wat gevolg word deur die caveat: “ek dig nie / ek skryf net neer wat ek voel...” (;
Daarop volg ‘n stelling wat die dansbaan open: “...mens besin / meer / oor mens / as oor god / as mens / oor god besin...” (11) voordat die swaargewigte na vore tree: “... sal die tuinier verhartseer / as hy ‘n plant verloor / dog onnodig om te treur daaroor / liewer blydskap / dooie plant is mos kos / kompos vir / die ewige lewe / elke dag nuutgebore / uit die ewige dood...” (15/16) en “...eendag / is ons almal saam / in die graf / gelykgemaak / verskille opgelos / gesamentlik ontbind / in stukkies / alles tesame / weer / een ding / soos ons nog altyd was...” (21)
Indien enigeen egter dink dat die bundel ‘n ode aan ateïsme is, sal “toksiese ateïsme” (22) die misverstand vinnig opklaar: “wanneer die ongeloof / in die bestaan van god / jou verhewe laat voel / omdat jy beter weet / en gelowiges minag / het jou ateïsme / ook maar op die ou end / ‘n giftige religie geword”. Hierdie waarskuwing word met empatie alternatief verwoord as: “...vriendskap / is heelwat meer gesellig / as reg wees / alleen...” (64)
Waaroor gaan die bundel dan?
Oor vrae. Nie noodwendig oor die antwoorde nie, soos hierdie woorde aangaande Paulus illustreer: “...dat daar geleentheid was / om ‘n ander boodskap / uit paul se pen / by die woord in te glip / as jy die mag / in beheer is / met die geskiedskrywer in die sak / maar hoe sal ek weet / ek was nie self daar / om dit te ontken nie” (26).
Spasiëring is deurgaans ‘n belangrike stuk gereedskap om tussen teenstrydighede en ooreenkomste te onderskei, een standpunt word dikwels heel links gedruk, met die teenargument daarteenoor heel regs, en ‘n bykans gelate aanvaarding in die middel. Bladsy 37 verskaf ‘n goeie voorbeeld, heel links is “wat jy weet is waar”, en heel regs “hoef jy nie te glo nie” met “wat ons bring by / die crux / van die verhaal / dit is / soos / dit is...”
Ewe belangrik is die afwesigheid van hoofletters; die aanwesigheid daarvan sou dui op sekerhede – wat juis nie veronderstel word nie – en die afwesigheid kan saamgevat word as: “...is mens se kop / groot genoeg / om god se denke / klein genoeg te kry / om as geskrewe teks / te versprei” (41).
Die digterstem stel as maatstaf voor: “as jy wil weet of iets goed is / meet dit aan die liefde / vir jou en jou naaste daarin...” (61) maar herinner “ek vind dit onnodig / om andere te oortuig / van enige van my oortuigings...” en sluit in nederigheid af: “jy wat gebly het / tot hier / dankie...” (112)
Die titel is oop vir meer as een interpretasie. Sommige mag dit interpreteer as ‘n samesmelting van woorde om ‘n verbode boek te beskryf; ‘n tipe waarskuwing. Maar andere sal, hopelik, ook insien dat dit eweneens ‘n uitnodiging kan wees: Ta (dankie) vir die boek.
Op 18 Julie 2024 verskyn 'n deeglike, lesersindruk deur Bester Meyer op: Litnet - Bester Meyer oor Taboek
Uit Bester Meyer se indruk blyk dit dat Taboek gedagtes opper wat moeilik was vir hom as Christen om te verwerk. Hy erken: "sommige lesers mag dit selfs as godslasterlik ervaar". Die onbewysbare vermoede bestaan dus dat daar mense op Facebook was wat dit so ervaar het, haar storie gerapporteer het en daarom is Anschen Conradie se woorde verwyder.
Intussen het daar op 28 Julie 2024 'n veroordelende resensie in Rapport verskyn waarin daar nie een goeie woord oor Taboek gesê is nie, behalwe dat die Taboek dalk kultusstatus as bundel kan bereik. Die resensent sê "dis beslis nie poësie nie" en noem Taboek "'n onverteerbare bundel". Hierdie spesifieke resensie het wel ietwat van 'n Kaapse storm in 'n literêre teekoppie ontketen veral nadat Crito op Litnet die resensie 'n 2/10 punt toegeken het.
Nog 'n lesersindruk deur Jean Oosthuizen het 5 Augustus 2024 op Litnet verskyn. Dit kontrasteer sterk met die resensie, toegeken in die openingsrede dat Oosthuizen erken dat hy 'n persoonlike vriend is van Riku Lätti en nie 'n objektiewe relaas kan lewer nie, maar desnieteenstaande heelwat waarde en genot uit Taboek put. Dis duidelik dat die resensent liewer iets moes gesê het soos "ek vind die bundel onverteerbaar", want nou is sy stelling 'n bewysbare onwaarheid. Daar is heelwat mense wat in skrif erken dit hul Taboek meer as net "verteerbaar" vind, selfs sielsvoedend. Dit skep die gevoel dat die resensent 'n persoonlike byltjie geslyp gehad het vir Lätti se werk soos Crito, in sy sedertdien verwyderde kritiek, gesuggereer het.
Intussen is daar heelwat oor en weer geskryf en beledig en skrifgeleerdes wat wil aandring op hul skrifgeleerdheid, maar nogtans reken dat hulle hul opinies aanlyn moet verdedig. Dis egter alles 'n hartseer ongeluk wat beteken het die gesprek is nie meer gespits op die inhoud van Taboek nie maar op onbenullige kantgevegte.
As skrywer het Riku Lätti die volgende te sê:
mense sit in dogmatronke
dit is nie hul eie toedoen nie
ons het dit geërf uit ons rigiede samelewing
pa, oupa, kerk en skool wat vooraf vir ons bepaal het wat ons moet glo
ons is nie almal skrifgeleerdes nie
ons weet nie van vryhede waarop ons geregtig is, maar wat ons nie gegun word nie
ek dig nie
ek skryf oor waarheid, skoonheid, goedheid, liefde en vrede
want ek dink dis die belangrikste goed vir my om oor te skryf
Taboek is my woorde
dit sê wat dit moet sê
en ek dink dis mooi
presies soos dit is
en ek staan daarby
Riku Lätti