"There is no daylight between Israel and America"
"There is no daylight between Israel and America"

Die struikelblok in die pad van wêreldvrede

Ek hoor die wêreld brand al weer
Ek sien die aarde disintegreer
Die noorde het die reën gesteel
Hul dade het hierdie land verniel

Ek stap met my masjiengeweer
Om te oordeel wat jy vra
Ek treur oor my Amerika
Die son sak neer oor haar

My asem word met sand gesif
My longe nat en swaar
Die gif het al my bloed bereik
Ek tel my laaste dae

Vir vrede
Vir almal

uit: My Amerika
album: Aan’t sterre tel luister/download/stream

Ek het die voorreg gehad om Amerika ‘n paar maal in my lewe te besoek en ek was dadelik verlief op die land. Dit was soos ‘n vreemde droom wat waar geword het toe ek in Los Angeles aanland. Ek het soveel plekke en landmerke herken wat ek voorheen slegs in films en TV gesien het. Wat ‘n wonderlike ervaring was dit om die droomland in lewende lywe te betree! 

Amerika is ‘n merkwaardige land. Dit wat Amerikaners bereik is asemrowend, letterlik en figuurlik. Van al die dinge wat Amerika so ongelooflik voortreflik mee is, dink ek haar beste uitvoerproduk, is haar gepoetste beeld. Bloot net die feit dat wanneer ek van “Amerika” praat en almal weet ek praat uitsluitlik van die Verenigde State en geensins van albei die kontinente nie, spreek alreeds boekdele oor hoe suksesvol die VSA se beeld wêreldwyd bemark is. 

Met my reis het ek ander dimensies Amerika begin raaksien. Ek het besef dat die land heelwat meer kompleks as my reeds gevormde beeld van haar is. Skokkend vir my was die hoeveelheid haweloses wat in kartondose op sypaadjies slaap. Vuisvose oorlogsveterane wat hardop met hulself gesprekke voer soos hul in die strate afloop. Grumpy old men om elke hoek en diner, wat gal te braak het oor hoe alles aan die verval is sedert só en só aan bewind is. Ek kon helaas sien dat die krake heelwat ouer as die vorige verkiesing is.

Ek het in ‘n ou derdehandse VW golfie geklim en die pad gevat op soek na mooi goed. Wat ek gevind het, het my met ‘n dieper onverwoordbare liefde vir Amerika gelaat. Ek het op die interessantste plekke barmhartigheid en warmte ervaar en op ander plekke die treurige afwesigheid daarvan. Die liefde het altyd gekom van individue terwyl die liefdeloosheid gewoonlik die hand van korporatiewe mag verklap. 

Ek het ‘n heel interessante nag in ‘n backpackers in Johannesburg Kalifornië (populasie 114) deurgebring. Die backpackers het gewerk op ‘n “honor system” waar jy bly solank soos jy wil, vat van die blikkieskos en droë rantsoene soveel soos jy wil en los die geld in ‘n blikkie in die kombuis.  

Daar het ek en ‘n Vietnamoorlogveteraan, Jim Thom, alleen in die konstant krakende spookagtige huis gebly.  Ek sê “alleen”, maar hy het wel so bietjie van ‘n arsenaal saam met hom gehad, onder andere een groot masjiengeweer wat hy sê hy van die weermag gekry het toe hy ontslaan is.  

Die volgende dag het ek hom vergesel in sy soektog na ou stukke metaal en myn toerusting in ‘n paar van die verlate mynskagte op Bureau of Land Management (BLM) https://www.blm.gov/ grond. Hy versamel ou gereedskap wat hy dan in kunswerke omskep. So donner die drie van ons: ek, Jim en sy masjiengeweer (met ‘n flits vooraan vasgeductape,) daar af in ‘n skag wat deur die jare meer as een ineenstorting meegemaak het. 

Ek vra: “Why the gun?” Hy antwoord:” Ya never know what ya are gonna find down there. Sometimes snakes, but mostly never-die miners still holding out for gold.” 

Op ‘n stadium raak die klim in die mynskag af so rof dat jy altwee jou hande moet inspan in die klim. Hy vra my om sy geweer vas te hou om vir hom ‘n lig te gooi. Daar staan ek toe met ‘n M16 in my hande, gerig op ‘n oud-Amerikaanse soldaat in ‘n stralekrans, sodat die man sy weg in die donker kan vind. ‘n Gebeurtenis so buitensporig onverwags dat ek die beeld vandag nog helder in my kop ervaar. 

As kind en naïewe oningeligde jong mens, het ek telke male geval vir die films en fiksie waarin Amerika die vrede vir die hele wêreld bewaar deur die Nazis/Kommuniste/Terroriste uit die Ooste/Aliens/selfs moordadige asteroïedes wat net te graag alle lewe op aarde wil uitwis, te oorwin. Die narratief waarmee elkeen van ons al tot in ‘n ideologiese beswyming in gebombaardeer is, is dat Amerika hier is om ons almal te red en vrede op aarde te bewaar. Amerika is die “good guys”.  

Daardie illusie het egter soos kapok voor die son verdwyn namate mens met naakte geskiedenis gekonfronteer word. Soos wanneer mens uitvind dat miljoene inheems Amerikaners eers vermoor moes word voordat die Europeers die “onbewoonde” land wat hulle “ontdek” het kon inpalm. Ondersoek gerus die “trail of tears” en mens word gou bewus van die Amerikaanse modus operandi van die tyd: die “ethnic cleansing” of te wel die verwydering van “ongewensde” mense van ‘n land wat jy vir jouself wil hê en dan ontwikkel met die hulp van slawe-arbeid. Dus, die volksmoord en bloedbad met die intrapslag. Dan, die groteske slawerny wat Amerika welvarend gemaak. Ongekende pyn en lyding vir miljoene en miljoene kinders, vroue en mans. Slawejag en dan onmenslik gemartel en vasgeketting in die bote op pad na “the land of the free”. Familiebande tussen swart mense tot in ewigheid uitgewis met kinders en ouers wat die besittings van eienaars van heinde en verre onder dwang geword het. 

Nou kan mens argumenteer dat almal weet dat die VSA ‘n duistere geboorte gehad het, maar dat hulle daardie volksmoord, slawerny en minagting van “andere volke” lankal al ontgroei het.  Die geskiedenis is geskiedenis. Vandag is die American Dream: “Anyone can make it.” Rassisme is verby, hulle het selfs al ‘n swart president gehad. Wel, “American dream on”:  ten spyte die Republikeinse kandidaat vir die presidentskap, Nikki Haley se sotlike stelling nou die dag, “ we’ve never been a racist country,” en andere wat net soos sy dink, is rassisme in Amerika is net soveel iets van die verlede as wat dit in Suid-Afrika is.

Amerika het wel gehelp om die Nazis te oorwin, NAVO gehelp stig om sekuriteit in die Noorde te bewerkstellig, asook ‘n yslike rol gespeel om die VN te help maak wat dit vandag is. Three strikes, America is great!  

Amerika is die fakkeldraer van twee belangrike universele waardes, naamlik: Vryheid en selfbeskikking.  Of ten minste, so sê die pro-Amerika PR.

Kom ons loer na so paar voorbeelde waar hul aksies hul woorde weerspreek.

1899-1902: Filipynse-Amerikaanse oorlog: Amerika veg teen Fillipynse onafhanklikheid.  Buiten die 20 duisend soldate in die skermutseling is minstens 200 duisend burgerlikes wreed om die lewe gebring. (Sommige beweer die getal nader is aan ‘n miljoen.)  In hierdie oorlog pas die Amerikaners ‘n verskroeide aarde beleid toe op die gebied. Mense word in konsentrasiekampe gegooi, waar duisende in haglike omstandighede sterf. Stel jouself voor jy is aan die ontvangkant van daardie tipe behandeling. O wag so ‘n bietjie….

Vandag nog is Amerika die enigste land wat atoombomme op burgerlikes laat ontplof het. In Hiroshima en Nagasaki was burgerlikes willens en wetens geteiken, níé militêre basisse nie. 

Die hoeveelheid ontwrigting en staatsgrepe wat die Amerika d.m.v. die CIA uitgevoer het in Sentraal- en Suid-Amerika is verbysterend. In Gautemala het die Amerikaanse United Fruit Company die bevolking so te sê as slawe ingespan om die piesangprys in Amerika laag te hou. In 1954 het Amerikaanse bomwerpers daar verwoesting gesaai. In Nicaragua, Chile, Brasilië, Honduras, Haïti, Hawaii, Uruguay, Panama, Argentinië en El Salvador, het Amerika ‘n rol gespeel wat regerings laat kantel het. Nóg bloedvergieting. Elkeen ‘n voorbeeld waar die idee van “selfbeskikking en vryheid” vir ander, deur Amerika verontagsaam word.

In liberale Iran was dit Amerika en Brittanje wat van die demokraties verkose Mohammad Mosaddegh ontslae geraak het om met diktator shah Mohammad Reza Pahlavi te vervang. Laasgenoemde se vergrype, selfverryking en korrupsie terwyl burgers van Iran uitgehonger en arm was, was so skreiend, dat die Iranese opgeruk het met massiewe optogte en betoë. Die uiteinde was bestyging van die “troon” deur die Ayatollah Khomeini. Vandag weet ons almal van die gevolge van die onderdrukkende effekte van die sharia wetgewing wat Khomeini in Iran tot stand gebring het. Hoeveel meer selfbeskikking en vryheid sou Iranese vandag gehad het as dit nie was vir die Amerikaanse befoetering daarvan nie?  

So ook is Isis, die Taliban, aaklige terroristiese groepe wat hul totstandkoming grootliks aan onnodige en ongevraagde Amerikaanse inmenging te danke het. Die Taliban was oorspronklik deur Amerika befonds om teen die Russe in Afghanistan te veg. Isis het ontstaan uit die magsvakuum wat gevorm het danksy die ongeregverdigde oorlog wat Amerika met Irak gevoer het. Daar was kwansuis “weapons of mass destruction WMD”. Vandag weet ons dit was ‘n leuen. Wie het tans te veel WMDs? Amerika, in my opinie.

Ek kan ad infinitum oor internasionale kwaadstokery deur Amerika redeneer. Daar is Kongo, Vietnam, Kambodja, Chad. Korea, waar kommunistiese denkwyses so gevaarlik is, dat dit moord en doodslag regverdig. Maar ek moet ophou want ek wil by ander punte uitkom.  

En die punt is, as dit gaan oor internasionale vrede vir almal, is Amerika nie die “good guys” nie. Alle Amerikaanse strategiese internasionale beweging word uitgevoer om Amerikaanse belange te bevorder. Die vrede wat hul wel bewerkstellig, is “doodtoevallig” omdat dit in hul volgehoue besigheidsbelange is om vrede daar te handhaaf. Mag jy so gelukkig wees om in so ‘n land te leef. Amerika het keer op keer bewys dat sy bomme op jou en jou kinders sal laat reën, of agter die skerms ‘n klein coup of burgeroorlog sal ontketen, as dit kommersieel voordelig vir haar sal wees. Woe be upon him who stands in America’s way.   

Dit is so duidelik soos daglig, dat, alhoewel haar PR die teenoorgestelde sê, Amerika die vyand is van wêreldvrede. Die vraag is, wat in hemelsnaam, nee askuus, wat de hél soek sy op die VN se veiligheidsraad? Dis ‘n liggaam wat kwansuis verantwoordelik is vir internasionale vrede en sekuriteit. Nie net is Amerika ‘n permanente lid nie, sy het vetoreg. ‘n Reg wat sy onlangs aangewend het om te stem teen ‘n skietstilstand in Gaza. Nie dat Israel sou geluister het nie. Hulle is te druk besig met die “final solution.” Maar steeds: Dit was Amerika wat gestem het teen ‘n skietstilstand.  

Dis tyd dat ons as ‘n wêreldbevolking die VN en die Veiligheidsraad herbesoek. Die Veiligheidsraad doen presíés die teenoorgestelde as dit waarvoor hulle in die lewe geroep is. Dit rek oorloë tot in alle ewigheid uit. Nêrens kan die Veiligheidsraad ingryp om vrede te bewerkstellig nie, want as Amerika nie ingryping veto nie, sal Rusland, of Sjina.

A ons terugstaan en vir ‘n oomblik die karakter van die permanente lede op die Veiligheidsraad ondersoek, kom mens tot die skokkende besef, dis die oorlogmakers in beheer van die wêreldvrede. 

Amerika weet ons is smoorverlief op oorlog; sal alle wêreldbronne opgebruik in ‘n japtrap vir ‘n dollar; hoofbydraer tot klimaatsverandering wat lewe vir miljarde mense op aarde moeiliker tot onmoontlik maak. Verdien sy om op die Veiligheidsraad te sit en ander lande se wil om vrede te veto?  Nee, sy verdien nie haar posisie nie. Maar daar sit sy nou, die hoofboelie wat niemand kan verwyder nie.

Dan is daar Brittanje. Verdien Brittanje om daar te wees? Na kolonialisme, diefstal, volksmoord, konsentrasiekampe? Voor hulle weer woord oor wêreldpolitiek rep, wil ek eers hoor watter planne hul gaan maak om aan terug te betaal waar hulle gesteel het. Ek luister by die raadloos.

Wat van Rusland? Rusland is letterlik op hierdie oomblik besig met een van die talle oorloë wat hulle begin het. Watter reg verdien Rusland om namens die wêreld te besluit waar vrede gemaak mag word en waar nie? Geen!

Sjina is ook nie sonder sonde nie. Tot op hede is hulle betrokke by die onderdrukking van vryheid en selfbeskikking. Dink maar net vlugtig aan Tibet, die Uyghurs en die eienaardige situasie met Taiwan op die oomblik wat die “one China” illusie moet in stand hou. Amerika se aksies jeens Taiwan, word deur Naom Chomsky beskryf as “provocative” and “increasing the levels of confrontation” met Sjina. Mag daar nooit ‘n oorlog in die gebied uitbreek nie, maar as dit gebeur sal Amerika weereens ‘n groot deel van die oorsaak daarvan wees.  

Noem my idealisties en naïef, maar in ‘n regverdige wêreld is hierdie booswigte nie in beheer van die liggaam wat vrede en sekuriteit moet bring nie. Hulle is dan die aggressors. Watter lesse leer ons vir ons kinders as ons die boelies baas maak van almal juis omdat hulle die gevaarlikstes is van almal? Dis ‘n tirannie deur die sterkstes. Die boelies in beheer. Dis argaïes. Die mensdom moet verder evoleer en hierdie waansinnigheid afskud. Hoeveel “American Heroes” word in verre lande stukkend geskiet en dan in houtbokse, trots gedrapeer met die Amerikaanse vlag aan hul moeders oorhandig? Is die post-mortem Purple Hearts en die 21 gun salute by die grafte van Amerikaanse soldate genoeg om vertroosting te bring aan hul geliefdes? In die naam van vrede? ‘n Vrede wat soveel verwoesting insluit?

Vir wêreldvrede om ‘n kans te staan is dit duidelik dat óf die Veiligheidsraad moet ontbind word, óf die vetoreg moet afgeskaf word en daar moet ‘n reël aangebring word wat sê dat geen land wat in die laaste 10 jaar in ‘n oorlog betrokke was, mag op die Veiligheidsraad dien nie. Miskien is daar ander beter voorstelle wat sal kan werk, maar ons almal kan teen die tyd sien die Veiligheidsraad soos dit tans werk is net ‘n impotente las vir wêreldpolitiek.

Mense mag dalk dink dat ek anti-Amerika is omdat ek haar kritiseer, maar dis glad nie die geval nie. Inteendeel, ek het haar lief op maniere wat ek self nie verstaan nie. Ek wens vir haar verlossing van hierdie gyselaarskap waarin haar wurgende wapenindustrie haar het, dat sy nie eers haar eie mense op eie bodem kan beskerm nie. ‘n Magtige industrie wat heelwat meer geld maak uit oorlog as uit vrede. 

Vandag staan Amerika nie net in die pad van vrede in die Midde-Ooste nie, sy is letterlik die een wat die bomme verskaf waarmee volksmoord gepleeg word. Daar is geen oplossing in Palestina moontlik solank Amerika betrokke is nie. Die nadraai van die vernietiging van Palestina gaan lei tot voortdurende tereuraanvalle op Joodse teikens wêreldwyd. Iets wat Jode glad nie verdien nie. Ek kan nie sien hoe Israel se dade nie nuwe antisemitisme kweek nie. Dis hoekom daar so ‘n groot beweging wêreldwyd deur Jode is om hulle te distansieer van Israel se geweld en volksmoord. 

Hier kom gevaarlike tye vir die ganse wêreld en baie daarvan is Amerika se skuld. Biden gee die game weg met sy woorde: “Were there not an Israel, the United States of America would have to invent an Israel to protect her interest in the region.” 

Joe Biden's long history of pro-Israel statements:

Vir Amerika gaan dit nooit om vrede en selfbeskikking nie. Vir Amerika gaan dit altyd oor “protecting her interest.”  Dis waar die probleem vir die res van die wêreld lê en veral dáárom verdien Amerika nie die mag in die VN wat sy tans geniet nie.  Biden sê ook: “there is no space between the United States and Israel”.  Hoe anders moet ons dit interpreteer dat, as dit in Israel se belange is om Gaza te vernietig, al haar kinders inkluis, dit dus ook in Amerika se belange is om Gaza te vernietig. Kinders inkluis.  Amerika weereens die volksmoordenaar d.m.v. Israel.

Ek is net diep ongelukkig en ontsteld dat Amerika haarself in ‘n perfekte posisie bevind in wêreldpolitiek om vrede te bewerkstellig, maar dit nie doen nie, want geld. Selfs die Bybel vertel vir ons dat, as jy jou talente nie aanwend nie, jy hulle gaan verloor. Dis tyd dat oorlog-Amerika haar triggerfinger ‘n blaaskans gee, haarself bietjie verskoon, of ten minste stilbly, wanneer die res van die wêreld probeer om vrede te maak.