Riku Lätti - foto: Gideon Breytenbach
Riku Lätti - foto: Gideon Breytenbach

Lätti dalk tog redder van Afrikaans
Die Burger   10/16/2004
MARIANA MALAN


RIKU LäTTI is een van die min kunstenaars wat kan spog met twee Sama-benoemings in een jaar. Dit was boonop met sy debuutalbums in Afrikaans.
Sy album 'n Pleister vir my nerwe is in 2002 in die kategorie beste Afrikaanse kontemporêre album benoem. Die instrumentale Woknawyf! , wat in dieselfde verpakking verkoop is, is in dieselfde jaar benoem vir die beste instrumentale album. Hy het ook die Geraas-prys vir die beste alternatiewe album met Pleister gewen.

Die album Nou , wat hy saam met Jean Marais as die groep 12Hz uit gegee het, staan steeds hoog aangeskryf en kenners beskou dit as een van die progressiefste albums nog in Afrikaans. Hy is ook al beskryf as die redder van Afrikaanse musiek .

'n Mindere musikant sou so 'n gewigtige getuigskrif nogal intimiderend kon vind. Tog kry 'n mens die idee dat hy sy nuwe album, Aan't sterre tel , sonder vooropgestelde idees en sonder pretensie aangepak het. Die produk is weer eens oorspronklik, propvol verrassings en suiwer luistergenot.

Lätti het in die verlede gesê hy spreek nie doelbewus enige kwessies aan nie, maar dat daar boodskappe is vir mense wat wil luis ter. Hierdie keer takel hy die Amerikaners en ongeregtighede op die man af in "Oorlogtyd", "My Amerika" en "Osama bin Laden".

Daar is egter ook treffende liedere oor die liefde en verhoudings in die algemeen. Die musiek wissel van luistervriendelik tot uitdagend-ingewikkeld.

Die snit "My Amerika" is 'n akoestiese pragstuk. Lätti begelei homself op die klavier op een van die treffendste Afrikaanse liedjies die afgelope tyd.

Ten spyte van die titel, is dit universeel toepaslik. Wanneer hy met Paul Riekert van Battery 9 saamspan in "Osama bin Laden", word 'n kleuterrympie op sy kop gedraai en in 'n skrikwekkende werklikheid geplaas.

Die duette op die album is verrassend en uitsonderlik. Hy sing saam met Laurika Rauch "Op die maan". Die duette bied aan genoemde kunstenaars nuwe uitdagings en verleen aan Lätti se vertolking 'n besonderse dimensie. Ander kunstenaars sien deesdae die potensiaal van sy werk raak. Karla du Plessis het ook op haar nuwe album, Steeds op vrye voet , een van sy liedjies opgeneem.

Wat die meeste van Lätti imponeer, is dat hy nie onverantwoordelik rebelleer nie. Hy verskuif eerder grense omdat hy nie bang is om te eksperimenteer nie.

Die humor in sy lirieke vang jou soms onkant, maar is waarskynlik ook 'n manier om sy voete op die grond te hou terwyl sy kop tussen die sterre ronddwaal